Gemeente Profiel:

Agtergrond:

Ons verstaan van Familie wees, Gemeente wees en gestuur wees...

Vir ‘n klompie jare nou al hou Moedergemeente George vas aan Johannes 15 as ‘n anker-vers vir ons gemeente, veral vers 4 & 5: “Julle moet in My bly en Ek in julle. ’n Loot kan nie uit sy eie vrugte dra as hy nie aan die wingerdstok bly nie; en so julle ook nie as julle nie in My bly nie.

5“Ek is die wingerdstok, julle die lote. Wie in My bly en Ek in hom, dra baie vrugte, want sonder My kan julle niks doen nie.Ē
In ons gemeente beleef ons dat, wat ons lidmaatskap in Moedergemeente betref, die Bybel ons die volgende leer: Die Here roep ons. Vir dié van ons wat Sy stem hoor en daarop reageer, versamel God in ‘n geloofsfamilie (die gemeente). Hier in Sy huisgesin leer en vorm Hy ons. In hierdie leerskool word ons genees, begin ons om nuut te dink en na die wêreld met “die oë van ChristusĒ te kyk. Só raak ons gereed om Sy gestuurdes te wees om vrugte van diens in die wêreld te dra.
Daar is nie ‘n kortpad vir hierdie beweging nie. Dit is ook ‘n beweging wat homself aanhou herhaal omdat ons steeds  tot nuwe dinge geroep word en steeds daarvoor gevorm word.
Ons gemeente se geestelike bediening moet dus ruimte skep vir hierdie eenvoudige beweging van : roeping, versamel, vorming en vrug dra.
Roeping is die deel wat grootliks in die gemeente se eredienste en ander ruimtes gebeur waar ons saam Bybel lees en veral die leraars die boodskap en roeping van God vir ons lewe verduidelik.
Versamel gebeur waar ons onder die leiding van die Here dan bymekaar kom in kleingroepe, bybelstudiegroepe, toerustingsgroepe en wyksgroepe. Hier kom ontmoet die Here ons op ‘n naby manier en leer Hy ons verder oor die spesifieke betekenis van die lewe saam met Hom, waartoe Hy ons roep.
Om te doen waarvoor Hy ons roep, moet ons verander en nuwe gewoontes aankweek. Dit is die werk van die Gees wat beweeg waar ons in liefde saamkom. In die groepe verander Hy ons harte, gesindheid en gewoontes. Hy raak ons aan deurdat ons mekaar bedien met toepaslike dade van liefde en diens. Dit kweek nuwe gewoontes en houdings, tot só ‘n mate dat ons nie dinge net verstaan nie, maar ons ingeoefen raak om anders op te tree.
Ingeoefen en bekwaam, saam met mekaar, beweeg ons dan uit om in ons leefplek, werkplek, speelplek en wêreld vrugte te dra wat Sy nuwe wêreld sigbaar maak.
Die geestelike bediening in die gemeente is dus eerstens iets wat die Here doen en nie iets wat deur sekere mense aan ander gedoen word nie. Dit is ook ‘n proses waaraan ons elkeen moet kies om mee te doen. In hierdie proses gee die Here ons elkeen rolle. Die leraars en gemeente leierskap se rol is om leiding te neem.
By die roepings fase bedien hulle die Woord.
By die versamel fase tree hulle op as afrigters om mense in te lei in die aanleer van nuwe gewoontes.
In die vorm fase, tree hulle op as mentors wat vir gelowiges begelei om uit te beweeg in die nuwe styl van leef.
Met die uitstuur fase, help hulle gelowiges om die geleenthede raak te sien en uit te stuur om ‘n verskil te maak.
Die Bybel is vol voorbeelde van hierdie proses. Dink maar hoe die Here met Sy dissipels gewerk het.
Die fout wat na ons oordeel in die verlede gemaak is, is dat ons meestal net aandag gee het aan die roeping en stuur gedeelte. Ons lees die Bybel, maak dit vir mekaar duidelik wat die Here wil en waartoe Hy ons roep. Dan verwag ons van mekaar om dit wat ons gehoor het te gaan doen of ons aanvaar dat net sekeres dit moet gaan doen. Die uitkoms hiervan is dat ons nie die Bybelse weg van versamel en vorm volg nie. Ons probeer dus om die regte goed te gaan doen sonder om tyd te spandeer aan die aanleer van vaardighede om te doen wat die Here vra. Die gevolg is dan maklik moedeloosheid, frustrasie, mislukking, skuldgevoelens en verwyt. Ons noem dit dan verkeerdelik geestelike traagheid en onbetrokkenheid.
Ons glo dat ons as gemeente voor die uitdaging staan om die kultuur van die gemeente te verander. Dis ‘n verandering van kultuur waar mense hulleself deel voel van ’n kerk waar dienste aan hulle gelewer word na ’n kultuur van ’n gemeente as plek van groei en meelewing om ’n meer aktiewe volgelinge van Jesus te wees.
 
Die aanbevelings wat ons hier maak, fokus daarop om ruimtes te skep waar lidmaatskap van die gemeente bepaal word deur hulle wat meedoen aan die versamel en vormingsproses sodat ons vrugte kan dra! Die implikasie is dat lidmaatskap van die gemeente voortaan nie meer bepaal word deur ’n naam op ’n register nie, maar deur die individu se persoonlike meelewing en verbintenis aan die Here en mede gelowiges en prosesse in die gemeente. Na alles moet ons besef dat ons deel is van God se familie, van Sy huisgesin, soos Efesiërs 2:19-22 ons inderdaad leer.
 
Die Griekse woord vir huisgesin is OIKOS. Ons het ‘n bediening (Oikos) in ons gemeente wat vir die afgelope drie jaar op spesifieke areas in ons geloofsfamilie fokus, naamlik:
Verbondsbegeleiding, Nuwe intrekkers, Geloofsreis, Dissipelskap en Pastorale sorg.
Ons lewe as gelowiges in die kerk begin by God en kry gestalte by ons doop. Ons maak dit die basis van ons lewe as gemeente, omdat die doop ons elkeen betrek en oproep. Die doop bind ons aan God, mekaar en help ons verstaan dat ons elkeen op ’n unieke manier dankbare uitdrukking moet gee aan ons doop deur ons lewe in die gemeente.
Doop ouers. Ons begin in 2013 ’n nuwe proses met alle doopouers waar ons verhoudings bou met die doopouers en byeenkomste inrig waar hulle gehelp word om hulle kinders aktief te begelei in die groei van hulle geloof. Ons bind die proses aan die gemeente deur voortaan dopelinge se doopdatum op ’n jaarlikse basis te vier met ’n spesifieke ritueel. Geen doopouer kan meer doop in die gemeente bedien los van hierdie proses nie en dit beteken dat ons nou ouers van die begin help om die primêre rol te speel in die vorming van die kind se geloof. Ons begin volgende jaar om ook hande te vat met al die ouers in die gemeente wie se kinders lank reeds gedoop is. Hulle bly steeds doopouers wat voor God staan met die doop belofte. Ons begelei hulle deur hulle te versoek om die stof van die Kontak program waarmee ons volgende jaar gaan werk, te gebruik. Dit behels dat ouers in hulle eie stiltetyd, in hulle gesinne met huisgodsdiens en in kleingroepe, waar hulle as gesinne kan inskakel, genooi word om die fokusteks van die komende Sondag te gebruik volgens stof en riglyne wat ons aan hulle gee. Die stof berei elkeen in die gesin voor vir Sondag se erediens waartydens die hele erediens volgens die teks ingerig word, ook die kindermoment.
Kleuters en kinders. Die kleuters en kinders tot graad twee verlaat die erediens na die kindermoment om daar met die uitgewerkte stof van die Kontak program besig te wees onder leiding van ’n span volwasse begeleiers.
Laerskool kinders. Die laerskool kinders kom na die erediens in groepies bymekaar onder leiding van ’n span volwasse begeleiers wat die inhoud van die teks in die erediens verder neem met die uitgewerkte stof. Bo en behalwe die byeenkomste op ’n Sondag, neem die spannetjie van volwasse begeleiers ook inisiatief vir addisionele geleenthede met die kinders saam met hulle ouers wat twee kampe per jaar en ander uitreik geleenthede insluit.
Tieners. Die tieners hanteer ook na die erediens in groepe die verdere uitgewerkte stof van die teks wat in die erediens hanteer is. Bo en behalwe die byeenkomste op ’n Sondag, neem die spannetjie van volwasse begeleiers ook inisiatief vir addisionele geleenthede met die kinders saam met hulle ouers wat twee kampe per jaar en ander uitreik geleenthede insluit.
 
Die gevolg is dus dat die geloofsvorming reeds die Maandag voor die erediens in die huise begin en groot en klein in die erediens op ’n Sondag dit saam vier om verder op eie vlak daarmee te werk. Dit maak dit dus onmoontlik vir ouers om apart te staan van die geloofsvorming van hulle kinders. Dit betrek die ouers volledig in die proses en dit bind die gesin aan die groter gemeente.
 
(Die Kontak program is nuwe stof wat geskep is deur die Sinodale kantoor vir gemeente bediening – Communitas.)
 
Belydenis aflegging. Vroeër jare het ons gepraat van voorstelling en aanneming. Ons hou van die ouer benaming en wil dit voortaan so noem.
Wat en hoe?
Alle jongmense wat in 2013 in die gemeente hulle geloof wil bely, word genooi om met die kerkkantoor te skakel. Ons het die eerste en tweede helfte van die jaar ‘n reeks byeenkomste vir finale voorbereiding vir voorstelling aan die gemeente en aanneming tot volwasse lidmaatskap. Die leraars hanteer hierdie sessies en na elkeen van die reeks byeenkomste, skep ons geleentheid vir die voorstelling en aanneming van die lidmate in die erediens. Hierdie proses sluit ook mense in wat uit ander denominasies of buite kerklik by die gemeente inskakel en volledig wil deel word. Ons gebruik tydens hierdie sessie die amptelike stof van die kerk hiervoor genaamd "G8". Met die stof hanteer ons die kernwaarhede van ons geloof. Aan die einde van die reeks sessies volg die proses van voorstelling en aanneming. Die klemverskuiwing wat hiermee kom, is dat enigeen wat hulle geloof in die gemeente wil bely, dit doen deurdat iemand anders in die gemeente die persoon aan die gemeente kom voorstel as iemand wat wel ‘n verhouding met die Here het en die pad van dissipelskap loop, ook deur meelewing in die gemeente. Die implikasie is dat mense wat totaal onbetrokke en buite die gemeente leef en funksioneer, nie hulle geloof in die gemeente kan bely, sonder om mee te leef en in verhouding te kom staan met mede gelowiges en prosesse in die gemeente nie.
 
Die res van die gemeente staan nie los van die proses nie aangesien ons almal as gedooptes saam met die kinders steeds oppad is met ons eie geloofsvorming deur inskakeling by die selfde Kontak program.
Ons beskou nuwe intrekkers as ’n fokus groep in die gemeente. Ons ervaring oor die afgelope twee jaar is dat mense by die gemeente kom aanmeld as nuwe intrekkers nadat hulle reeds ander gemeentes besoek het, en ’n onafhanklike keuse maak om by Moedergemeente in te skakel. Ons gebruik hierdie energie om voortaan met elke nuwe intrekker persoonlik kontak te maak. Ons reël ‘n leraarsbesoek besoek en nooi hulle dan na ’n persoonlike induksie proses by die kerk, gewoonlik in die Langgebou. Die leraars en lede van Oikos is hier betrokke en die lidmate word gelei in ons verstaan van gemeente-en-kerkwees. Verder help ons hulle om die werking en hele opset van die gemeente goed te leer ken. Aan die hart hiervan lê die oortuiging dat lidmaatskap van die gemeente, aktiewe deelname aan geloofsvormende prosesse saam met medegelowiges, impliseer. Ons neem elke nuwe intrekker by die hand en help hulle om by groepe en geleenthede in die gemeente in te skakel. Aan die einde van die sessies vra ons van hulle ’n persoonlike verbintenis aan die gemeente waarin hulle hulleself opnuut verbind aan hulle doop, eie belydenis aflegging, maar dan ook aan persoonlike meelewing, inskakeling en offervaardigheid in die gemeente.
Geloofsreis:
Na aanleiding van die retraites van 2011 en 2012 het ons hierdie jaar met ’n geloofsreis begin waar ’n groepie van 18 gelowiges op ‘n 100 dae reis gegaan het. Dit is ‘n reis om saam te groei in die aanleer van geloofsgewoontes om ’n nouer pad van dissipelskap met die Here te loop. Oikos sien hierdie , saam met die Kontak program , as een van ons fokus hulpmiddels om mense te begelei tot geestelike diepgang en meelewing in ‘n lewensstyl van dissipelskap. Ons neem verantwoordelikheid om vir die volgende jaar hierdie geloofsreis tweemaal aan te bied en daardeur ten minste sestig nuwe mense op die reis te kry. Ons glo dat ons soos die Here Jesus moet lei deur voorbeeld. Dus is almal in die gemeente wat in leiersposisies van enige aard is, eerste in lyn vir die geloofsreis vir 2013. Ons voorstel is dat elke kerkraadslid verbind is tot meelewing hiermee.
Geloofsgesinne:
Ons het reeds in 2012 die besluite geneem waarmee ons dissipelskap as die hooffokus van die gemeente gemaak het. Die manier waarop ons die groter gemeente in 2013 intrek in die proses van dissipelskap is deur die verdere uitbou van die fokus van die week wat in 2012 gevestig geraak het. Ons bou dit egter verder uit. Ons het reeds hierbo by punt 1 Verbondsbegeleiding, verduidelik dat ons in ons eredienste werk met die Fokus Program waarby gesinne en kinders op alle ouderdomme inskakel. Ook die res van die gemeente word aangemoedig om by hierdie gemeentelike Bybelleesprogram in te skakel vir hulle eie stiltetyd en geloofsgroei. In die stof wat ons elke week beskikbaar stel vir elke individu, gesin, kleingroep en wyksgroep word hulle begelei met vrae en riglyne om persoonlik op die roeping van die Here te reageer. Dis ook vanuit hierdie persoonlike ontmoeting van elkeen wat van die stof gebruik maak, dat ons elkeen nooi om voor die Here te versamel en deur Hom gevorm te word in kleiner groepe.
Die twee kontekste waarop ons fokus vir die pastorale versorging in die gemeente is kleingroepe en wyksgroepe. (Hou in gedagte dat ons pastorale sorg primêr verstaan as die intrek van mense in ‘n geloofsfamilie.) Ons fokus vir 2013 is die leiers van die kleingroepe en wyke. ‘n Kleingroep en wyksleier wat persoonlik en saam met ander in die gemeente in ‘n lewensveranderende reis van dissipelskap is, is suurdeeg in die gemeente. Oikos fokus dus in 2013 eerstens op die toerusting, begeleiding en kontrole van die kleingroep en wyksleiers. Die uitdaging is om kleingroepe en wyke te laat groei in ruimtes waar gelowiges in die gemeente versamel en gevorm word om toegerus uit te gaan en te doen. Die stof soos hierbo uiteengesit, dien as die basiese raamwerk. 
Tot nou is dit duidelik dat ons in 2013 dus fokus op nuwe intrekkers, doopouers, ouers met kinders in die skool en almal in leiersposisies in die gemeente.
Wat van die lidmate wat nie by die fokuslys ingesluit is en onbetrokke of beswaard is?
Ons is van mening dat bogenoemde geïdentifiseerde groep ‘n kritiese massa is. As ons met hulle dieper gaan, is hulle die agente om die buitestaanders op ‘n sistematiese en volhoubare manier in te trek. Naas die fokus op kleingroep en wyksleiers, is Oikos ook verbind om te beywer om nuwe kleingroepe te vestig en nuwe wyksleiers te kry waar daar tans vakatures is.
 
Diepte geestelike begeleiding deur leraars.
 U sal oplet dat al vyf punte soos hierbo uiteengesit, konsentreer op die skep van ruimtes waar die Here ons kan versamel en vorm dat elke gelowige meer bemagtig is om gestuur te word om Sy hande en voete te wees.
 
Een van die knelpunte wat aan Oikos as uitdaging gestel is, is dié van leiers wat nie by mense in die gemeente uitkom nie. Ons vermoed dat die persepsie by baie nog is dat gemeenteleiers eintlik maar verwys na die leraars. Oikos sien leierskap wyer as leraars. Die leraars is egter leierskap met die spesifieke fokus van toerusting en begeleiding van ander leiers. In die hele uiteengesette strategie is die leraars primêr verantwoordelik vir die begeleiding van: die Doop ouers, ouer groepe, volwasse begeleiers vir kinder en jeug groepe, geestelike leiding by kinder en tiener kampe. Hulle gaan ook sterk voor by die nuwe intrekker groepe, belydenisgroepe, kleingroep leiers, wyksleiers, wyksgroepe, en geloofsreisgroepe. Hulle vervul noodwendig steeds ook die sleutelrol in ons Eredienste. Verder word die leraars aangewend vir persoonlike begeleiding van individue en gesinne met geestelike nood. Dit gebeur deurdat mense ‘n afspraak maak of ‘n afspraak vir hulle gemaak word deur die volwasse begeleiers, wyksleiers of kleingroepleiers. U sien dus dat die vlakke van blootstelling van leraars aan die gemeente legio is. Die leraars is natuurlik nie die enigste leiers in die gemeente nie. Die uitdaging is aan die hele kerkraad en kleingroep, wyks en bedieningsleiers om aktief in bogenoemde proses mee te werk en sodoende die kultuur in die gemeente te verander van dienslewering na meelewing tot geloofsgroei.
 
Dankie dat jy tot hier gelees het. Ons glo dat die Here aanhou om met ons ‘n pad te loop. Hy doen dit trouens al vir meer as 200 jaar met Moedergemeente George! Met ons onlangse Retrait [2014/15] het ons al bogenoemde in oënskou geneem, stil geword, gebid en geluister. Wat ons nou hoor is dat ons moet voortgaan met bogenoemde aspekte van Roep, Versamel, Vorm en Stuur, maar dat ons ook meer erns moet maak met die volgende:
Familie-wees, Gasvryheid en Evangelisasie! Dit is drie pilare wat ons nodig het in die op-en-uitbou van God se Koninkryk hier in George, waar ons onsself tans bevind.
.
Die model wys dat die drie pilare aan mekaar verbind is. Ons besef dat al ons bedieninge in die gemeente aanmekaar verbind is. Ons kan nie sonder mekaar funksioeneer nie. Die sement wat alles aan mekaar hou is verhoudings (liefde). ‘n Teksgedeelte wat bogenoemde voorstelling versterk is Handelinge 2:46-47, waar die eerste gelowiges vir ons ‘n voorbeeld stel: “Hulle het almal elke dag getrou by die tempel bymekaargekom (Roep-en-versamel), van huis tot huis (Huisgesin van God) die gemeenskaplike maaltyd gehou (Gasvry), hulle kos met blydskap en in alle eenvoud geëet, 47en God geprys (Vorm). Die hele volk was hulle goedgesind. En die Here het elke dag mense wat gered word, by die gemeente gevoeg (Stuur / Evangelisasie).