Sake Uit Die Algemene Sinode 2013

                                                                  Algemene Sinode 2013
Saamgestel uit SinodeInligting
Kontak dr Ben du Toit by die Sentrum vir Kommunikasie, Privaatsak X8, Bellville, 7535
Tel: 021 957 7195 – E-pos: kommunikasie@kaapkerk.co.za
 
Nuus oor die Sinode kan ook op Kerkbode se webblad by www.kerkbode.co.za gelees word.
Nuus word ook steeds deur middel van die NG Kerk se amptelike Algemene Sinodesitting webblad www.as2013.co.za gedra.
 
Die 15de Algemene Sinode van die NG Kerk het vanjaar in Port Elizabeth vergader (Sondag 6 tot Donderdag 10 Oktober 2013).
 
1. Inleiding
Dit was die eerste maal dat die Algemene Sinode in die Oos-Kaap gehou is. Die Oos-Kaapse Sinode was die gasheer-sinode en hulle het saam met die Ontwerpspan besluit om die Veremarksaal in die middestad in te rig vir hierdie geleentheid.
 
Hierdie saal dateer uit die laat 1800’s en was oorspronklik as ’n mark vir die volstruisvere-bedryf gebou. Later is hierdie saal vir verskeie ander doeleindes aangewend, onder andere dan as konferensie-saal, funksie-venue en veral, na die installering van die nuwe orrel in 1999, vir musiekuitvoerings (sien foto).
 
Van Sondagaand af, met die indrukwekkende openingseremonie, is ons meegesleur deur die musiekbegeleidingspan, waarvan die massiewe orrel (aanspraak word gemaak as die grootste losstaande pyporrel in die land) ’n prominente deel vorm. Dit was ’n aangrypende voorreg om met hierdie orrel se begeleiding die Onse Vader te sing.
 
Maandagoggend is gewy aan ’n waarderende gesprek van die NG Kerk. Ons behoort aan ’n besondere kerktradisie en veral in die lig van soveel kritiek wat in die afgelope jare as gevolg van ’n verskeidenheid van redes teen die kerk opgestapel is, is dit steeds die kosbare geloofstuiste van meer as ’n miljoen lidmate in Suider-Afrika. En, natuurlik ook deel van die groter NG Kerkfamilie – ’n familie wat tot ver in Afrika in strek. Dit is die kerk waarin ons gedoop is, waarin ons die Drie-Enige God van genade leer ken het: Die God van Abraham, Isak, Jakob, Dawid en die God van ons geloofsvaders en -moeders.
 
 
 
 
2. Moderatuur
Prominent op Maandag se agenda was die verkiesing van die Moderatuur. Die Moderatuur bestaan uit ’n voorsitter (moderator), onder-voorsitter (assessor) en aktuarius (kenner van kerkreg). Die Algemene Sekretaris dien ook adviserend op die Moderatuur. Hulle vorm saam die Dagbestuur van die Moderamen (wat op sy beurt weer funksioneer as die voortsettings-vergadering, of dagbestuur, van die Algemene Sinode).
As moderator is verkies: Nelus Niemandt
As assessor is verkies: Braam Hanekom
As aktuarius is verkies: Johann Ernst
Die Algemene Sekretaris is Kobus Gerber.
 
3. Nuwe Artikel 1 van Kerkorde
Die Algemene Sinode het met ’n groot meerderheid die volgende voorstel vir ’n nuwe belydenisgrondslag vir die kerk vandag aanvaar – vir goedkeuring deur die kerkverband:
 
Kerkorde Artikel 1:
1. Die Nederduitse Gereformeerde Kerk is gegrond op die Bybel as die heilige en onfeilbare Woord van God.
2.1 Die leer wat die Kerk in ooreenstemming met die Woord van God bely, word verwoord in die ekumeniese belydenisse, naamlik die Apostoliese Geloofsbelydenis, die Geloofsbelydenis van Nicea en die Geloofsbelydenis van Athanasius; en die Drie Formuliere van Eenheid, naamlik die Nederlandse Geloofsbelydenis, die Heidelbergse Kategismus en die Dordtse Leerreëls.
2.2 Die Belydenis van Belhar is deel van die belydenisgrondslag van die Kerk, op so ʼn wyse dat daar ruimte is vir lidmate, ampsdraers en vergaderinge wat dit as in ooreenstemming met die Woord van God bely, sowel as vir lidmate, ampsdraers en vergaderinge wat dit nie as ʼn belydenisskrif onderskryf nie.
3. Die Kerk aanvaar dat haar roeping om haar geloof te bely, altyd geld en dat ʼn uitbreiding van haar belydenisgrondslag sonder dwang geskied.
 
4. Kerkhereniging
Die Algemene Sinode keur die volgende besluite goed oor kerkhereniging:
1. Die Algemene Sinode is dankbaar oor die vordering in die gesprek en verhouding met die VGKSA en onderskryf die werk van die Moderamen in die verband.
2. Die Algemene Sinode keur die Memorandum van Ooreenkoms met die VGKSA goed.
3. Die Algemene Sinode keur die roetekaart vir ’n kerkherenigingsproses goed sover dit kerkordelik en regtens haalbaar is.
4. Die Algemene Sinode bevestig dat sinodes, ringe en gemeentes hulle selfstandigheid en verantwoordelikheid ten opsigte van besluitneming en bedieningstrukture in ’n nuwe kerkverband mag behou.
5. Die Algemene Sinode keur die beoogde Algemene Predikantekonferensie goed en versoek die kerkverband om dit moontlik te maak vir leraars om teenwoordig te wees.
6. Die Algemene Sinode keur die daarstel van ’n Loodskomitee vir Kerkhereniging en ’n Taakspan vir ’n Tussenorde en Konsepkerkorde goed, en dra die samestelling daarvan aan die Moderamen op.
7. Die Algemene Sinode spreek weereens sy wens uit dat al vier kerke van die NG Kerkfamilie in een kerkverband moet tuiskom en dra dit aan die Moderamen op om in die onderhandelinge met die VGKSA asook die NGKA en die RCA alles moontlik te doen om dit moontlik te maak.
 
5. Seisoen van Menswaardigheid
Na ons deelname aan ’n gesprek oor “Hoe vorm ons morele mense?” het ʼn voorlegging oor die instelling van Seisoen van Menswaardigheid gevolg, toe verteenwoordigers van die VGKSA (ds Godfrey Betha) en die RCA (ds Victor Pillay) saam met ds Nelis Janse van Rensburg op die verhoog die motivering daarvoor aangebied het. Dit is NIE net ʼn NG Kerk-inisiatief nie. So is dit ook bevestig deur die deelname en motivering van die verteenwoordigers van die Kerkfamilie in die Sinodevergadering. Op persoonlike vlak (vroue, kinders, seksuele oriëntasie, ras, sosiale status) word mense se menswaardigheid aangetas. Maar ook as gemeenskappe, as gevolg van ons geskiedenis in hierdie land, is – en word steeds – die menswaardigheid van mense daagliks aangetas – diskriminasie op grond van ras, geslag en ander kultureel en sosiaal gekondisioneerde vooroordele.
 
Ons was diep meegevoer deur hierdie gesamentlike voordrag en motivering en die volgende besluite is aanvaar as ʼn verbintenis tot 'n Seisoen van Menswaardigheid:
1. Die Algemene Sinode verbind haarself heelhartig tot deelname aan die Seisoen van Menswaardigheid en versoek die kerkverband ernstig om deel hiervan te wees.
2. Die Algemene Sinode verbind haar om die vier waardes van die Seisoen van Menswaardigheid, nl respek, luister, omarming en selfloosheid, te bevorder.
 
6. Vlugtelinge, Vreemdelinge in ons Midde
Suid-Afrika beleef tans ’n ongekende toestroming van vlugtelinge in ons land en gemeenskappe. Terselfdertyd vind talle Suid-Afrikaners ’n heenkome elders in die wêreld. Bewus van die feit dat die oorgrote meerderheid van die vlugtelinge mense is wat op soek is na ’n beter lewe, weier ons dat immigrante met kriminele intensies, ons verhouding sal definieer met ontwortelde mense, wat slegs verlang na ’n beter en veiliger lewe tussen ons. Die Woord van God leer ons dat ons die vreemdeling met gasvryheid in ons midde behoort te ontvang.
 
Besluit:
Die AS doen ’n beroep op ons lidmate om uit te reik na die vlugtelinge, om hulle met respek en waardigheid te behandel en om goeie bure te wees vir ons medemense.
Die AS doen ’n ernstige beroep op al ons gemeenskappe om hulle te weerhou van enige vyandigheid teenoor kwesbare mense in ons midde.
Die AS versoek die SA regering om die regte van die vreemdelinge in ons midde te bevestig en te verdedig.
Die AS doen verder ’n beroep op ons regering om beslissend in te gryp om die vloei en integrasie van vlugtelinge in ons midde te reguleer, sodat die konsentrasie van vlugtelinge in sekere plekke nie ’n onhoudbare las op arm gemeenskappe word nie.
Die AS versoek die regering om die saak van vlugtelinge deel van ons nasionale welsyns-opdrag te maak.
Die AS bid tot God, wat in die Kind Jesus saam met sy nederige ouers vlugtelinge in Egipte was, om die vreemdelinge tussen ons te beskerm, om ons eie harte met ontferming teenoor hulle te vul en om die lig van Christus se teenwoordigheid te laat skyn in ons bediening van omgee en sorg aan die ontwrigtes.
Die AS dra dit aan die moderatuur op om saam met die familie van NG Kerke en die breë Ekumene hierdie saak op te neem met die betrokke rolspelers, sodat die vreemdelinge tussen ons in ons ontfermende uitreik na hulle die liefdevolle hart van ons Here sal ervaar.
 
7. Apostolicum
Op 30 September 2009 het ’n aantal aangewese persone (deur die Algemene Sinode) vir die eerste maal op Stellenbosch bymekaargekom om te werk aan ’n eietydse interpretasie van die Apostoliese Geloofsbelydenis. Dit het gebeur teen die agtergrond van die volgende opdrag van die sinode: Die daarstelling van ’n Eietydse interpretasie van die Twaalf Artikels. Hulle was Danie Malan (sameroeper), Ben du Toit (skriba), Robert Vosloo en Coenie Burger.
 
Dit was gou duidelik dat ’n interpretasie van die Apostoliese Geloofsbelydenis onafwendbaar sou lei tot ’n teologiese hantering van die verskillende uitdrukkings van ons geloof. Die erkenning en hantering van die verskillende kontekste betrokke sou nie geïgnoreer kon word nie. Dit sou die integriteit van die projek aantas. Daar is weldra besluit om hierdie “Apostolicum-span” uit te brei met ’n span kundiges vanuit die NG Kerkfamilie.
 
Hierdie “verslag” is aan die Algemene Sinode in Port Elizabeth voorgelê vir oorweging. Die volgende besluite hieroor is deur die sinode aanvaar:
1. Die Algemene Sinode bedank die teoloë uit die NG Kerkfamilie wat die dokument, Die Apostoliese Geloofsbelydenis – 'n Eietydse uitleg, as geskenk vir die Kerkfamilie voorberei het. Bybel-Media, wat ’n sewe-weke gespreksgids, gerig op lidmate, oor die dokument ontwikkel, word ook bedank.
2. Die Algemene Sinode ontvang hierdie eietydse uitleg as ’n gespreksdokument wat eerlik wil kyk na al die baie vrae wat oor ons geloof gevra word, maar ook kontoere wil gee waarbinne na antwoorde in die lig van die Skrif gesoek moet word.
3. Die Algemene Sinode stuur die dokument na die verskillende sinodes vir bespreking en terugvoer, met die versoek dat gesprek wyd oor die dokument gevoer word. Die Moderamen wys ’n projekspan aan om die proses van gesprek, evaluering en terugvoer te begelei.
 
8. Samehang van die Sakramente in Verbondsteologiese Perspektief
1. Die Algemene Sinode moedig gemeentes aan om in die viering van die sakramente die belydenis van die kerk voor oë te hou en die samehang van die twee sakramente te verreken.
2. Die Algemene Sinode moedig gemeentes aan om in die kategetiese onderrig die samehang van die sakramente uit te lig en die kardinale rol daarvan in die proses van geloofsformasie tot sy reg te laat kom.
3. Die Algemene Sinode moedig ouers aan om in hulle saamleef met hulle kinders die troosryke werklikheid van die sakramente na die oppervlak te laat kom in gesprek en lewensvoorbeeld in ooreenstemming met die doopbelofte.
 
9. Huwelik/Saamwoon
Die volgende is oor hierdie saak aanvaar sonder enige bespreking.
1. Die Algemene Sinode probeer om tans die volgende perspektiewe ten opsigte van saamwoonverhoudings te stel in die besef dat dit saamhang met omvattende sake soos die huwelik, egskeiding en seksuele etiek van gelowiges, wat deurlopend met deernis en sensitiwiteit deur die kerk onderskei en begelei moet word. Die verskillende punte hieronder moet daarom deurgaans met mekaar in verband gelees word.
2. Die Algemene Sinode besef dat die huwelik soos ons dit vandag ken die produk van eeue se ontwikkeling is. Daarom kan sommige huweliksgebruike soos in die Bybel beskryf, byvoorbeeld leviraatshuwelike en die vrou as besitting van die man, nie sonder meer dien as riglyne vir hoe Christelike huwelike vandag behoort te wees nie.
3. Die Algemene Sinode is daarvan oortuig dat die historiese ontwikkeling van die huwelik in die Bybel en in die geskiedenis vir ons duidelike riglyne bied van wat ’n Christelike huwelik is: ’n vaste, formele ooreenkoms tussen twee persone van die teenoorgestelde geslag om hulle lewens in alle opsigte met mekaar te deel in ’n lewenslange verbintenis waarin seksualiteit ’n eksklusiewe karakter dra, geseën of bevestig deur die kerk, gesluit in die teenwoordigheid van getuies, sover as moontlik in die gemeenskap van gelowiges en verkieslik erken deur die staat as ’n wettige huwelik.
4. Die Algemene Sinode oordeel dat, in die lig van bostaande, gelowiges met reg die huwelik ’n gawe van God noem en dat seksuele gemeenskap buite so ’n vaste, formele verbintenis/verhouding nie aan Christelike riglyne voldoen nie.
5. Die Algemene Sinode is daarvan bewus dat saamwoonverhoudings (wat die seksuele insluit) vandag ʼn werklikheid in die samelewing is. Daar is verskillende redes waarom mense saamwoon. Sommige mense woon saam omdat hulle seksuele eksklusiwiteit nie as ’n belangrike aspek van ’n verhouding beskou nie. Hierdie verhoudings is weens die nie-permanente en selfsugtige aard daarvan, eties onaanvaarbaar.
6. Die Algemene Sinode is egter bewus daarvan dat daar ander redes is waarom sommige pare saamwoon. Sommige woon saam met die argument dat hulle seker wil maak dat hulle in alle opsigte by mekaar pas, voordat hulle trou. Van hierdie verhoudings streef in sekere opsigte na die Bybelse waardes van liefde, respek en eksklusiwiteit. Tog is dit minder as wat die Christelike verstaan van die huwelik verwag en word daarom ontmoedig.
7. Die Algemene Sinode wil mense wat in ’n saamwoonverhouding leef, aanmoedig om die verbintenis nog vaster te maak deur die kerklike en staatkundige aspekte in plek te kry.
8. Die Algemene Sinode beskou die reëlings van mediese fondse en pensioenskemas wat voordele van mense ontneem wanneer hulle na die dood van ’n eggenoot/eggenote weer in die huwelik tree, as eties problematies en onderneem om nogeens met die betrokke owerhede hieroor in gesprek te tree.
9. Die Algemene Sinode aanvaar dat al die implikasies rondom die bevestiging van ’n enkel kerklike huweliksverbintenis nog nie uitgeklaar is nie en is daarom op hierdie stadium nie ten gunste van so ’n reëling nie.
 
10. Twyfel saai oor Geloofswaarhede
1. Die Algemene Sinode herbevestig weereens die NG Kerk se standpunt oor die gesag van die Woord van God as enigste norm vir ons geloof.
2. Die Algemene Sinode herbevestig weereens dat die NG Kerk die belydenisskrifte sien as normatief in die sin dat dit volgens die Skrif ons geloof bely.
3. Die Algemene Sinode herbevestig dat die Skrif en Belydenis gelees moet word binne hulle historiese konteks en dat hulle met verantwoorde hermeneutiek vertolk sal word, sodat ons die leiding van die Gees vir ons tyd kan hoor.
4. Die Algemene Sinode wys lidmate daarop dat ons met mekaar in gesprek sal tree voordat mense verdag gemaak word, of van leerdwaling beskuldig word, want verdagmaking en leuens is net soveel sonde as leerdwaling.
5. Die Sinode besef dat baie lidmate geweldige onsekerhede op baie vlakke beleef en wil lidmate verseker van deernis met hulle situasie. Die Sinode wil ook lidmate en leraars daarop wys dat, juis wat ons van die Bybel en Belydenisskrifte as antwoord hierop glo, ons weerhou van fundamentalisme (aan die een kant) en vrysinnigheid/radikale sekularisme (aan die ander kant).
 
11. Armoede
Die NG Kerkfamilie is al vir lankal bewus van die feit dat die armoede (sommige meen ons moet eerder praat van sosio-ekonomiese gestremdheid) van ons Suid-Afrikaanse gemeenskap ons vyand No 1 is vir ’n vreedsame toekoms in ons land. Die verlies aan vertroue in die regering om regtig daaraan iets te doen (verskeie redes is daarvoor verantwoordelik), lê ’n al groter verantwoordelikheid voor die deur van die kerk as deel van die burgerlike samelewing. Die kerk sal sy rol hierin moet herwaardeer en besef hoe bepalend sy rol is vir die aanspreek van hierdie uitdaging. Die kerk moet dit nie net doen ter wille van ’n vreedsame toekoms nie, maar omdat dit ons opdrag is om die menswaardigheid van alle mense te bevestig – daarom ook die omsien na die minderbevoorregtes, wat ook en veral beteken, aandag aan konstruktiewe, sistemiese en holistiese aanspreek van die omstandighede wat daartoe aanleiding gee.
 
12. Stryd teen Armoede en Sosiale Ongeregtigheid
Die Algemene Sinode bevestig opnuut dat die volgehoue stryd teen armoede en ongeregtigheid ’n hoë prioriteit op die kerk se agenda moet wees. Derhalwe versoek die Algemene Sinode die Kerklike Maatskaplikediensteraad (KMDR) en Verenigde Diensgroep Diens en Getuienis (VDDG) om:
1. verder navorsing te doen oor die impak van kerklike programme op armoede en ongeregtigheid;
2. navorsing te doen oor die verhouding en samewerking tussen gemeentes en kerklike maatskaplike diensorganisasies ten opsigte van die stryd teen armoede, werkloosheid en ongeregtigheid;
3. navorsing te doen oor die verband tussen arbeidsverwante wetgewing en die optrede van vakunies aan die een kant en werksverliese, armoede en sosiale ongeregtigheid aan die ander kant;
4. die riglyne in die verslag verder te ontwikkel in strategie wat deur gemeentes geïmplementeer kan word;
5. Hugenote Kollege te betrek om gepaste kursusse te ontwikkel wat gemeentes in die uitvoering van hulle diakonale roeping kan ondersteun.
 
13. Bediening van Bevryding
Die Algemene Sinode vervang die huidige punt 7 van die 2011-besluit met die verbeteringsvoorstel (aangepas) wat die Oostelike Sinode in hul beswaarskrif stel, te wete:
Die AS aanvaar die werklikheid dat daar ʼn wye diversiteit van interpretasies en toepassing van die Bybelse boodskap oor die bose en demone binne die NG Kerk is. Daar is lidmate wat die persoonlike aard van die duiwel en demone aanvaar, en daar is lidmate wat die nie-persoonlike aard van die duiwel en demone aanvaar. Albei standpunte erken die realiteit van die bose.
1. In die lig van al die onderwerpe wat gedien het by leerstellige- en aktuele sake by die Algemene Sinode van 2013 is die behoefte baie duidelik identifiseer aan ʼn indringende gereformeerde hermeneutiek wat verantwoordbaar en prakties toepaslik is.
2. In die lig van ons luisterproses wil ons aanbeveel dat die Algemene Taakspan vir leerstellige- en aktuele sake bruikbare materiaal (Bybelstudiemateriaal) uitbring met praktiese voorbeelde aangaande die lees, verstaan en vertolking van skrif en belydenisskrifte ten opsigte van leer- en etiese sake.
3. Die bestaande besluite van die kerk oor Skrifgesag en Skrifgebruik en vertolking van belydenisskrifte moet daarin gereflekteer word.
4. Dit moet aan elke sinode beskikbaar gestel word vir bespreking en gesprekvoering.
Die Sinode oordeel dat die bewering in die beskrywingspunt van Vryheid-Wes nie reg is dat daar in besluite van die Sinode afgewyk word van ons Gereformeerde geloof in die krag van God se Woord wat mense bevry nie. Die standpunt van die sinode propageer nie allerlei slagspreuke of formules vir bevryding nie.
 
14. Homoseksualiteit
Die Algemene Sinode
1. bevestig dat die besluit van 2007 oor homoseksualiteit geneem is na ʼn deeglike eksegetiese en teologiese studie.
2. gee opdrag aan die ASM om in voortsetting van die 2007 verslag oor homoseksualiteit ʼn studie te doen oor die status van selfdegeslagverhoudings, in die lig van die Skrif en Gereformeerde tradisie.
3. besluit dat homoseksuele en heteroseksuele studente wat hulle voorberei vir die bediening in die NG Kerk, aan dieselfde Christelik-etiese standaarde moet voldoen met die oog op legitimasie.
4. verbind hom ook in die hantering van die saak aan die waardes van die Seisoen van Menswaardigheid.
 
Die 2007 besluit lui as volg: 
1. Die Bybel is ons uitgangspunt en in ons nadenke oor homoseksualiteit soek ons eerlik na maniere om die Bybelse waardes betekenisvol binne die konteks te interpreteer.
2. Ons aanvaar die liefde van Christus as die enigste geldige grondhouding waarop verhoudinge binne die geloofsgemeenskap gebaseer word. Alle mense is geskep na die beeld van God; die verlossing in Christus is vir alle mense en die Gees is uitgestort op alle gelowiges. Daarom aanvaar ons die menswaardigheid van alle mense.
3. Alle mense, ongeag hulle seksuele oriëntasie, is ingesluit in God se liefde en hulle word op grond van hulle doop en geloof as lidmate van die kerk van Christus aanvaar. Onder lidmaatskap word verstaan toegang tot die sakramente, toegang tot die ampte en onderworpenheid aan die kerklike tug.
4. Die Algemene Sinode herbevestig die besluit van 2004 dat, volgens ons verstaan van die Bybel, slegs die verbintenis tussen een man en een vrou as ’n huwelik beskou kan word.
5. Die Algemene Sinode bevestig ook die besluit van 2004 dat sowel heteroseksuele as homoseksuele promiskuïteit ten sterkste veroordeel word.
6. Die Algemene Sinode besluit dat, in die lig wat ons tans het, homoseksuele verbintenisse en huwelike nie as ’n alternatief vir die huwelik aanvaar kan word nie.
7. Die verlening van predikantsbevoegdheid is ’n funksie van die Algemene Sinode. Die sinode besluit dat homoseksuele gelegitimeerdes wat ’n selibate lewenstyl beoefen tot die predikantsamp toegelaat word.
8. Die AS erken die diskresie van Kerkrade om die verskille oor homoseksualiteit in gemeentes in die gees van Christelike liefde te hanteer.
 
15. Grondhervorming en Landelike Ontwikkeling
1. Die Algemene Sinode versoek die Moderamen om binne die raamwerk van die verslag voort te gaan om op so veel as moontlike vlakke versoening en sinvolle oplossings te bemiddel.
2. Die Algemene Sinode verwys die verslag na die onderskeie sinodes om dit na goeddunke en binne konteks op die tafel van gemeentes te plaas, in die hoop dat dit die NG Kerk se sinvolle bydrae op voetsoolvlak/gemeentevlak sal verhoog.
3. Die Algemene Sinode versoek die Moderamen om, as NG Kerkfamilie en ekumeniese vennote, die aangeleenthede in die verslag waaroor ernstige kommer heers dringend met die Nasionale Regering op te neem.
4. Die Algemene Sinode is diep verontrus oor die morele verval in die land, maar veral binne die landbousektor (sien punt 4.6.1.4 in verslag). Dit behoort as ’n prioriteit binne die NG Kerkfamilie hanteer te word – met ’n duidelik geformuleerde uitkomsgebaseerde omkeer-strategie.
5. Die Algemene Sinode is diep verontrus oor die impak wat veral bogrondse mynbedrywighede in sekere vrugbare dele van die land op die landbou en die omgewing het en doen ’n beroep op die regering om deur streng wetstoepassing en volhoubare gemeenskapsontwikkeling ’n einde daaraan te maak.
6. Die Algemene Sinode doen ’n beroep op lidmate in die landbousektor om die gesins- en familielewe van hulle werkers te koester, hulle onderwys te verseker en kerklik met hulle mee te leef.
7. Die Algemene Sinode versoek sy Taakspan vir Ekologie om die Moderamen dringend met advies oor hidrobreking te voorsien met die oog op standpuntformulering.
 
16. Media-polemiek
1. Die AS neem met sorg kennis van ’n groeiende tendens dat lidmate en leraars wat vanuit hulle persoonlike perspektiewe en oortuigings verskil met kerklike prosesse, besluite, uitsprake, benaderings en ampsdraers, kies om elektroniese kommunikasie en publieke forums te gebruik om veldtogte van verdagmaking, beskuldiging en selfs karakterskending te loots.
2. Terwyl die AS verbind bly tot openhartige publieke gesprek, betreur ons dit dat sommige van hierdie persone met sodanige veldtogte nie skroom om afbrekend, vervolgend en negatief te wees en selfs vergaderings en mede-gelowiges se integriteit af te kraak nie. Sodoende is en word mede-gelowiges diep seergemaak en die Liggaam van Christus leed aangedoen.
3. Omdat die AS begrip het daarvoor dat daar altyd uiteenlopende perspektiewe en verskille in die kerk was, is en sal wees, wil die AS ’n ernstige beroep op alle lidmate en leraars doen om op ’n Christelike manier met mekaar in gesprek te tree sodat die uitkoms van uitklarende gesprekke tot opbou van die kerk van Christus sal wees.
4. Die AS verklaar daarom aan alle lidmate en leraars dat hulle sal weet dat die NG Kerk in al sy strukture en ampsdraers altyd oop en toeganklik is vir uitklarende gesprekke oor enige aangeleentheid in die gesindheid en styl van ons Here Jesus Christus. (vlg Matt 18). Derhalwe word lidmate genooi om van geleenthede gebruik te maak en deur die beskikbare kanale aan gesprekke t.w.v. uitklaring deel te neem.
5. In die lig van reeds afgelope gebeure van misverstand, konflik en ongelukkigheid en ook nog moontlike sodanige insidente in die toekoms, versoek die AS die ASM om ’n ad hoc taakgroep aan te wys wat herstellende gesprekke in die gees en met die waardes van die luisterseisoen met en tussen betrokkenes kan bemiddel, sodat die kerk daadwerklik haar roeping tot en belydenis van die bediening van versoening kan uitleef.
 
- o0o -
Meer persoonlike notas oor elke dag
Met erkenning aan Mossie Mostert, Noord-Kaapland eNuus
 
Maandag 7 Oktober 2013
Die oorkoepelende tema van die Algemene Sinode was: In die teenwoordigheid van die Drie-Enige God – dit is by die daaglikse temas geïntegreer.
’n Skildery, Angels at Mamre (foto), uit die 15de eeu deur Adrei Rublev is gebruik om die tema uit te beeld en toe te lig.
Me Rinel Hugo, projekbestuurder van die Algemene Sinode, sê:
Die intieme kring van die drie Persone wat in die skildery uitgebeeld word, bied ’n méér as rasionele blik op eenheid, liefde, vertroue, gelykheid en vrede”.
 
Onder leiding van die sinode van Oos-Kaapland het die openingsliturgie (erediens en Nagmaal) op Sondagaand 6 Oktober 2013 om 19:00 plaasgevind.
Ds Dirkie van der Spuy, die afgevaardigde leraar met die langste diens, wat die oudste in jare is, het die openingsgebed tydens die openingsliturgie gedoen.
Prof Piet Naude het die Skriflesing en prediking waargeneem. Die Skriflesing was uit Genesis 18:1-15 (14), asook die interpretasie van die teks soos opgeteken in Hebreërs 11:1-3 en 8-18. “Sou iets vir die Here te wonderbaar wees?
 
Maandag 7 Oktober 2013
Die tema van die dag was: Geseën om te seën – Genesis 12:2. Dié tema handel oor God die Vader.
’n Kunswerk, “Genadejaar”, van Alida Bothma (foto) is gebruik om die tema uit te beeld en toe te lig. ’n Vader-hand wat salwingsolie oorvloedig uitgiet. Alida is ’n bekende kunstenaar van die Oos-Kaap.
Die dag het begin met ’n waarderende gesprek oor die kerk: Waarmee is die NG Kerk geseën? Geleentheid is aan afgevaardigdes gegee om te dink oor die afgelope jaar om gebeure te identifiseer wat hoop vir die toekoms van die kerk gee.
Prof Nelus Niemandt het die gesprek ingelei oor die missionale of gestuurde aard en roeping van die NG Kerk. “Die kerk se gestuurdheid of sending wortel in die liefdevolle hart van God, wat God se liefde soos ’n lewegewende stroom oor die wêreld uitgiet”. Geleentheid vir gesprekke om tafels is gegee oor: Hoe is die Here besig om ons verstaan van kerkwees te verander?
Deur die dag is ook gefokus op Jeug/Jeugnavorsing, Vroue, #Imagine, Klein gemeentes, Lidmaatbemagtiging, Kategese, Ritmejaar, Teologiese opleiding, Hugenote Kollege, Onderwys, Onderwyssentrums, Algemene Bevoegdheidsraad en Predikantesake.
 
 
 
Dinsdag 8 Oktober 2013
Die tema van die dag was: Sodat die wêreld kan glo – Joh 17:21. Dié tema handel oor God die Seun.
’n Kunswerk, “Lydende Christus”, van Martin Wessels (foto) is gebruik om die tema uit te beeld en toe te lig. Martin is ’n kunstenaar van die Oos-Kaap.
 
Geloofsbelydenis
Ek glo in Jesus Christus die Mens na God se hart wat God se wil gekies het
om deur die haat en klein begrip van mense ’n doringkroon te dra,
en van God geskei te word in die Godverlatenheid van Golgota –
die doderyk deurgrond het en opgestaan het
dat ons onvervreem van God verby die dood ewig vry kan lewe.
Ek glo in hierdie Jesus wat opgevaar het na die Vader
en vandaar die sagte oordeel bring omdat Hy nader aan my is as wat ek aan myself is;
my kern ken, verby die vel tot in die chemie van die sel;
wat weet hoe diep my blindheid is en my vashou –
styf teen die braille van sy lyf
(uit Wilhelm Jordaan se “Blydenuus van die Geloof”)
Die dag het begin met ’n waarderende gesprek oor eenheid, versoening en geregtigheid. Watter betekenis het die Belydenis van Belhar vir die kerk, ons land en die wêreld?
Deur die dag is ook gefokus op die Belydenis van Belhar, Ekumene, Kerkhereniging, Regte en Fondse.
 
Woensdag 9 Oktober 2013
Die tema van die dag was: Hou vas aan wat goed is – Romeine 12:9. Dié tema handel oor God die Heilige Gees.
’n Kunswerk, “Dit is my geliefde Seun”, van Marius Lourens (foto) is gebruik om die tema uit te beeld en toe te lig. Marius is predikant by die NG Kerk Vanstadensrivier net buite Port Elizabeth.
 
Geloofsbelydenis
Ek glo in die Heilige Gees, die Wind van God
wat oor die leegheid van my lewe waai
en die koers bepaal weg van myself,
weg van Tarsis na die nood in Nineve.
Ek glo aan die kerk wat uit Christus groei tot nuwe skeppingswerk;
om alle mense met geloof en hoop en liefde te verbind
aan die Koninkryk van God se Kind.
Ek glo aan die gemeenskap van stukkende sondaars
wat kniel voor die Heiligheid van God.
Ek glo aan die vergiffenis,
dat Genade altyd groter is as my sonde en geskiedenis.
Ek glo aan die heropstanding van die liggaam want ek glo in Christus.
Ek glo aan die ewige lewe wat hier begin en ná die dood
die blydenuus bly sing.
(uit Wilhelm Jordaan se “Blydenuus van die Geloof”)
 
Donderdag 10 Oktober 2013
Die tema van die dag was: Gaan maak jy ook so Lukas 10:37. Dié tema handel oor die Drie-Eenheid.
’n Kunswerk, “Die verlore seun” (foto), van die befaamde Rembrandt van Rijn is gebruik om die tema uit te beeld en toe te lig.
Die dag het begin met ’n waarderende gesprek oor hoe ons armoede kan bestry. Dr Deon Pretorius het gepraat oor “The Church and Poverty Reduction”. Dit kan afgelaai word by The Church and Poverty Reduction. ’n Voordrag wat dr Pretorius op 11 Julie 2013 by Victory Ministries International gelewer het, kan hier afgelaai word: Revitalizing the role of the Church in Socio-Economic Development – A Presentation to Church Leaders. (By die Noord-Kaapland sinodesitting van 2012 is gemeenskapsontwikkeling as een van dié prioriteite geïdentifiseer.)
Deur die dag is ook gefokus op o.a. Armoede, Diens en Getuienis, Kerklike Maatskaplike Dienste, Ekonomie en Prioritisering.
 
- o0o -