Besluite Van Die Algemene Sinode

Belangrike besluite wat geneem was tydens die Algemene Sinode: Lees gerus meer daarvan.

BESLUITE RONDOM DIE DOOP – ALGEMENE SINODE VAN DIE NG KERK
 
DOOP
1.       Die Algemene Sinode bevestig ons gereformeerde oortuiging dat die Verbondsdoop uitdrukking gee aan die grondwaarheid van die Evangelie dat God se genade en trou te alle tye ons gelowige aanvaarding daarvan voorafgaan en selfs omsluit.
2.       Die Algemene Sinode vra daarom kerkrade en predikante om die gereformeerde verstaan van die verbondsdoop met oortuiging en deernis te verduidelik en te bevestig, ook aan lidmate wat ander oortuigings oor die doop huldig.
3.       Die Algemene Sinode gee terselfdertyd erkenning aan die feit dat Christelike kerke nie almal dieselfde Doopbeskouing huldig nie, maar dat ons nogtans saam met mekaar deel uitmaak van die Kerk van Christus.
4.       Die Algemene Sinode gee dankbaar erkenning aan lidmate wat ten spyte van hulle ander verstaan van die doop steeds lojaal bly aan die kerkverband en wil hulle verseker dat hulle 'n geestelike tuiste in die NG Kerk het.
5.       Die Algemene Sinode vra opreg verskoning vir lidmate wat op een of ander wyse rondom die doop seergekry het, en nooi hulle uit tot onderlinge gesprek waar daar op pastorale wyse saam oor die saak gesels en gebid kan word.
6.       Die Algemene Sinode verseker lidmate wat die NG Kerk vanweë hulle doopverstaan verlaat het, dat die NG Kerk ’n geestelik tuiste wil wees vir alle kinders van die Here en nooi hulle hartlik uit om hulle regmatige plek in hulle plaaslike NG gemeente in te neem en saam te werk aan die koms van God se koninkryk.
 
VERTREKPUNTE VIR GESPREK
1.       Die Sinode is van oordeel dat die gesprek en beredenering oor die gereformeerde vertrekpunte van die doop deur die jare in die Nederduitse Gereformeerde Kerk deurdag is en ’n rykdom van teologie ontsluit.
2.       Die Sinode bevestig weer dat die verbondsteologie sentraal staan in die beredenering van doopherdenking of -herinnering.
3.       Die Algemene Sinode bevestig dat in gehoorsaamheid aan die verbondsbelofte van ouers, ouers en die kerk verantwoordelikheid moet aanvaar vir die verbondsonderrig (kategese) van hul gedoopte kinders sodat hulle gelei word tot ’n toe-eiening van die heil (belydenisaflegging) wat nie aan ’n bepaalde ouderdom gekoppel kan word nie (soos tans in die kerkorde vasgestel word), en versoek daarom die Taakspan Kategese om die plek, aard en ouderdom vir belydenisaflegging te ondersoek.
4.       Die Sinode besluit om niks by te voeg tot die gesprek oor die doop, kindernagmaal en kategese nie, maar wel net te fokus op die opdrag oor doopviering.
 
TERMINOLOGIE
1.       Die Sinode beveel aan dat die kerk eerder die woorde doopherdenking of doopherinnering sal gebruik.
 
RIGLYNE VIR DIE HERDENKING/HERINNERING
1.       Die Sinode bevestig dat die heil altyd en in alle omstandighede gevier moet word.
2.       Die Algemene Sinode wys lidmate daarop dat die gereelde viering van die nagmaal die primêre plek van viering is.
3.       Die Algemene Sinode bevestig dat die doopherinnering/viering nie as ’n her/weerdoop interpreteer mag word nie, maar direk met die verbonds-/christelike doop saamhang.
4.       Die Sinode besluit dat gemeentes aangemoedig word om geleenthede te skep waar doopherinnering of herdenking deel word van lidmate en gemeentes se verhaal.
5.       Die Sinode beveel aan dat sakramentsviering ’n groter rol binne liturgie, kategese en die erediens sal speel.
6.       Dit staan Kerkrade ook vry om toepaslike rituele te vestig wat die behoefte van sulke lidmate opvang om simbolies uitdrukking te gee aan hulle sterwe en opstanding saam met Christus.
7.       Hierdie rituele is nie Sakramente nie en vervang nie die Verbondsdoop nie.
 
OPDRAGTE RONDOM DIE DOOP
1.       Die Algemene Sinode gee aan ADGO opdrag om ’n taakspan te benoem wat ondersoek doen na wyses waarop daar aan doopherinnering / doopherdenking gestalte gegee kan word.
2.       AKLAS word versoek om die Sinode te bedien met ’n dokument wat die noodsaak van die verhouding tussen die doop as eenmalige toesegging in die heil en nagmaal as herhalende viering van die heil binne die verbondsteologie belig.
 
 
 
Hier is die amptelike besluite oor die bediening van bevryding soos dit vandag deur die Algemene Sinode van die NG Kerk in Boksburg goedgekeur is.
 
DIE BEDIENING VAN BEVRYDING
 
1.       Die Algemene Sinode bely met blydskap die oorwinning van Jesus Christus oor al die manifestasies van die duiwel, bose magte, boosheid en kwaad in hierdie wêreld.
2.       Die Algemene Sinode aanvaar dat hierdie oorwinning in baie gevalle nog nie ten volle sigbaar is nie, dat ons dikwels oorweldig is deur hierdie boosheid wat groter is as onsself, ook juis weens die swakheid van die mens, die verleiding van die sonde en die gebroke werklikheid.
3.       Die Algemene Sinode aanvaar daarom dat ons as kinders van God nog steeds in ’n geestelike stryd gewikkel is teen die boosheid in al sy manifestasies in die wêreld, maar veral teen die kwaad wat in elke mens skuil.
4.       Die Algemene Sinode bevestig weer eens dat dit van uiterste belang is dat die kerk sal leef vanuit die geloofsperspektief dat, hoewel die Bose gelowiges steeds bedreig soos ’n brullende leeu en versoek soos ’n engel van die lig, die bose deur die lewe, sterwe en opstanding van Jesus en die uitstorting van God se Gees oorwin en aan bande gelê is.
5.       Daarom meen die Algemene Sinode dat enige sogenaamde bediening van bevryding wat die geloofswaarheid oor die lewe en werk van Jesus en die Gees van God misken, geen bediening van die evangelie is nie en ook geen vryheid bring nie.
6.       Die Algemene Sinode moedig daarom alle gelowiges aan om deur die krag van die Heilige Gees (in die gees van die oorwinning van Jesus) die boosheid die stryd aan te sê deur spesifiek te fokus op die genadige verlossingswerk van Christus, sodat die kerk die ware kenmerke van Evangeliese gehoorsaamheid (liefde, genade, vergifnis en versoening) sal vertoon.
7.       Die Algemene Sinode aanvaar die werklikheid dat daar ’n wye diversiteit van interpretasies en toepassing van die Bybelse boodskap oor die bose en demone binne die NG Kerk is. Daar is ruimte vir lidmate wat aan die werklike en persoonlike aard van die duiwel en demone glo, en daar is ruimte vir lidmate wat die Bybelse spreke oor die bose en duiwels anders interpreteer.
8.       Die Algemene Sinode oordeel dat die getuienis van leraars en lidmate van die NG Kerk dat hulle in hulle bediening wel mense teëgekom het van wie hulle oortuig was dat hulle deur bose magte of demone gedemoniseer was – en ook hulle getuienis dat ’n bediening van bevryding baie van hierdie mense van kwellings, vreesagtigheid, haat teenoor God en sy gebod bevry het – nie sonder meer afgewys moet word nie. Die Sinode aanvaar dat daar verskillende interpretasies is oor die werklikheid al dan nie van gedemoniseerdheid. Dit geld ook vir die interpretasie oor wie en wat agter bepaalde bevrydinge lê.
9.       In die lig daarvan is dit die oordeel van die Algemene Sinode dat ’n bediening van bevryding as ’n buitengewone bedieningshandeling onder bepaalde voorwaardes toegelaat sou kon word eerder as om dit geheel en al te verbied. Die voorwaardes waaronder so ’n bediening toegelaat sou kon word, hou in dat:
9.1   die bediening van bevryding as ’n buitengewone bediening beoefen sal word en nie as deel van ’n roetine-pastoraat nie;
9.2   dit onder toesig van en met rapport aan die kerkraad en die ring gedoen word;
9.3   die persoon ook vir mediese evaluering verwys moet word. Daar rus ’n swaar verantwoordelikheid op persone wat so ’n bediening beoefen om mense nie skade te berokken deur siekte (onder meer psigiatriese versteurings) as besetenheid of gedemoniseerdheid te behandel nie;
9.4   daar met sorg gewaak word teen ’n animistiese verstaan van die skepping en teen die neiging om te dink daar skuil magiese kragte in sekere voorwerpe; teen lang konfronterende gesprekke met bose magte, asook teen die gepaardgaande triomfalisme wat straal uit sensasionele byeenkomste van bevryding;
9.5   daar verreken moet word dat die Gees van Christus in mense wat aan Christus behoort en sy Naam bely, leef. Bedieningspraktyke wat die algenoegsaamheid van die werk van Christus minag en daarmee die gereformeerde belydenis van die volkome verlossingswerk van die genadige God in Jesus op die spel plaas, word afgewys.
10.   Die Algemene Sinode besef dat die verskillende kulture in ons land ons duidelik bewus gemaak het van die veel-fasettige aard van die siening oor die Bose; dat daar kontekste is waarin daar ’n werklike vrees vir eksterne bose magte is wat baie mense se lewens oorheers en dat hierdie lewenservaring ernstig opgeneem behoort te word. Die Algemene Sinode moedig daarom sy eie ampsdraers en lidmate aan, wat in sulke kontekste werk, om op verantwoorde wyse besondere aandag hieraan te gee met die doel om die radikale verlossingswerk van Christus met oorgawe te verkondig.
 
 
 
Hier is die amptelike besluite oor die huwelik en saamwoon soos dit vandag deur die Algemene Sinode van die NG Kerk in Boksburg goedgekeur is en deur die notulekommissie aan ons beskikbaar gestel is.
 
BESLUITE RONDOM DIE HUWELIK EN SAAMWOON – ALGEMENE SINODE VAN DIE NG KERK
 
HUWELIK EN SAAMWOON
1.       Die Algemene Sinode neem kennis van die verslag en spreek sy waardering uit vir die kommissie se eerlike poging om verantwoordelik met hierdie kontekstuele saak om te gaan.
2.       Die Algemene Sinode besef dat die huwelik soos ons dit vandag ken die produk van eeue se ontwikkeling is. Daarom kan sommige huweliksgebruike soos in die Bybel beskryf, byvoorbeeld leviraatshuwelike en die vrou as besitting, nie sonder meer dien as riglyne vir hoe Christelike huwelike vandag behoort te wees nie.
3.       Die Algemene Sinode erken dat saamwoonverhoudings (wat die seksuele insluit) vandag ? werklikheid in die samelewing is. Daar is verskillende redes waarom mense saamwoon. Sommige mense woon saam omdat hulle seksuele eksklusiwiteit nie as ’n belangrike aspek van ’n verhouding beskou nie. Hierdie verhoudings is weens die nie-permanente en selfsugtige aard daarvan, eties onaanvaarbaar.
4.       Die Algemene Sinode is bewus daarvan egter dat daar ander redes is waarom ander pare saamwoon. Sommige woon saam met die argument dat hulle die huwelik hoog ag en daarom seker wil maak dat hulle in alle opsigte by mekaar pas, ook wat die seksuele betref, voordat hulle trou. Hierdie verhoudings reflekteer in baie opsigte die Bybelse waardes van liefde, respek en eksklusiwiteit en kan dus nie sonder meer afgewys word nie.
5.       Die Algemene Sinode is nogtans daarvan oortuig dat die historiese ontwikkeling van die huwelik in die Bybel en in die geskiedenis vir ons duidelike riglyne bied van wat ’n Christelike huwelik is: ’n vaste, formele ooreenkoms tussen twee persone van die teenoorgestelde geslag om hulle lewens in alle opsigte met mekaar te deel in ’n lewenslange verbintenis waarin seksualiteit ‘n eksklusiewe karakter dra, geseën of bevestig deur die kerk, gesluit in die teenwoordigheid van getuies, sover as moontlik in die gemeenskap van gelowiges en verkieslik erken deur die staat as ’n wettige huwelik.
6.       Die Algemene Sinode oordeel dat, in die lig van bostaande, gelowiges met reg die huwelik ’n gawe van God noem en dat seksuele gemeenskap buite so ’n vaste, formele ooreenkoms nie aan Christelike riglyne voldoen nie.
7.       Die Algemene Sinode beskou die reëlings van mediese fondse en pensioenskemas wat voordele van mense ontneem wanneer hulle na die dood van ’n eggenoot/eggenote weer in die huwelik tree, as eties problematies en onderneem om nogeens met die betrokke owerhede hieroor in gesprek te tree.
8.       Die Algemene Sinode wil mense wat in ? etiese saamwoonverhouding leef en dus die Christelike norme vir die huwelik uitleef, aanmoedig om die verbintenis nog vaster te maak deur die kerklike en staatkundige aspekte ook in plek te kry.
9.       Bostaande besluite word nie afsonderlik nie, maar deurgaans as ’n eenheid beskou oor die kerk se standpunt ten opsigte van die saamwoon van ongetroudes.
10.   Die Algemene Sinode aanvaar dat al die implikasie rondom die bevestiging van ’n enkel kerklike huweliksverbintenis nog nie uitgeklaar is nie en daarom op hierdie stadium nie ten gunste van so ’n reëling nie.
 
PASTORALE VERSORGING
1.       Die Sinode versoek leraars om in pastorale hantering van pare-in-verhouding, hulle met deernis te begelei van onvolledige verbintenisse na die omvattende, Bybelse verbintenis van die Christelike huwelik, en hierdie ideaal nooit af te water nie.
 
OPDRAGTE
1.       Ons verwys vir ondersoek na ’n kommissie die vraagstuk van die veranderende seksuele raamwerk en seksuele waardes van ons gemeenskappe.
2.       Die Sinode word versoek om ’n huwelikskursus te ontwikkel wat aan die jeug en ander vrywillig bedien word in die jaar na belydenis aflegging. Die oorsprong van huweliksprobleme word dan aangespreek en word die simptome (soos saamwoon) voorkom. Tans is die leiding vir die huwelik nie voldoende nie en word voorbeelde van ouers en die media slaafs nagevolg.
3.       Die Algemene Sinode gee opdrag aan die Moderamen om weë te soek waarin daar met die staat en ander rolspelers in gesprek getree word om wyses te vind waar daar nie teen persone gediskrimineer word op grond van die voortgaande voordele verbonde aan mediese fondse en pensioenskemas nie.
 
DIE HUWELIK SE ROL EN PLEK
1.       Die Algemene sinode bevestig die plek en waarde van die Christelike huwelik in die kerk en die gemeenskap en motiveer leraars en lidmate om die duursaamheid daarvan te bevorder.
2.       Die Algemene sinode versoek leraars en lidmate om gesonde huwelike aktief te bevorder en moeite te doen met huweliksvoorbereiding en huweliksverryking, omdat die idee en praktyk van huwelike verskraal het.
3.       Die Algemene Sinode motiveer gemeentes om jaarliks op die tweede Sondag van Februarie wêreldhuweliksdag te vier
 

 
KERKHERENIGING
Let asseblief daarop dat die volgende slegs ’n uittreksel (punt 5, 6 en 7) uit die besluit van die Algemene Sinode ten opsigte van kerkhereniging is. Die volledige besluit is elektronies beskikbaar as deel van die Agenda van die 14de vergadering van die Algemene Sinode van die NG Kerk op sy webblad byhttp://www.ngkerk.org.za/index.asp?bodyType=as_dokumente.
 
5 DIE BELYDENIS VAN BELHAR (EN LAUDIUMDEKLARASIE)
5.1 Ons is na ons konsultasieprosesse deeglik bewus daarvan dat
(a) ’n groot deel van die gemeentes en lidmate van die NG Kerk weens ’n verskeidenheid van faktore nie die Belydenis van Belhar as vierde belydenisskrif wil aanvaar nie. Dit is baie belangrik dat ons oor al hierdie faktore sal praat sodat ons nie “by die verlede stilstaan nieĒ (Jes 43:18), maar saam kan fokus op ons roeping vandag en in die toekoms. Ons verbind onsself hiertoe (vgl AS Besluit 2004).
(b) hierdie verskille kan oorbrug word deur ‘n deeglike studie te maak van Belhar self.
5.2 Soos ooreengekom met die Taakspan van die WBGK (nou die WGGK) is ons verbind om deur middel van ’n gesamentlike taakspan met die VGKSA weer deeglik te besin oor hoe ons saam in beide kerke met mekaar oor hierdie Belydenis kan praat.
5.3 Ons is steeds oortuig dat die wesenlike inhoud van die Belydenis van Belhar (ons verbintenis aan die Bybelse getuienis oor God Drie-enig, oor die eenheid van die kerk, oor geregtigheid en versoening) baie wyd aanvaar word (vgl AS besluit 1998).
5.4 Omdat die Belharbelydenis 'n belydenisskrif van een van die Familiekerke is, stel ons voor dat dit as een van die belydenisskrifte in die herstelde kerkverband opgeneem word. Dit impliseer nie dat alle gemeentes, predikante, kerkraadslede en lidmate van die nuwe verband dit vanselfsprekend as belydenisskrif hoef teaanvaar nie.
5.5 Die volgende formulering van die belydenisgrondslag (met inagneming van pt 5.4) vir ’n herenigde kerk word aanvaar as basis vir onderhandeling met die familie van NG Kerke:
1. Die leer wat die Kerk in ooreenstemming met die Woord van God bely, geskied in gemeenskap met die belydenis van ons voorgeslagte soos dit verwoord is in
1.1 die Apostoliese Geloofsbelydenis, die Geloofsbelydenis van Nicea en die Geloofsbelydenis van Athanasius waardeur die Kerk haar verbondenheid met die algemene christelike Kerk uitdruk, en
1.2 die Heidelbergse Kategismus, die Nederlandse Geloofsbelydenis en die Dordtse Leerreëls waardeur die Kerk haar verbondenheid met die gereformeerde tradisie uitdruk.
2. In verbondenheid met ons eie konteks erken ons die Belydenis van Belhar.
3. Die Kerk erken die betekenis van die Laudiumdeklarasie vir ons missionêre karakter.
4. Die Kerk aanvaar dat die taak van die kerk in belydenisvorming nie afgehandel is nie. In die toekoms mag veranderde omstandighede en ’n beter verstaan van die Woord van God lei tot die aanvaarding van verdere belydenisskrifte of die wysiging van bestaande belydenisskrifte.
 
6 MODEL: 'N VERENIGDE KERKVERBAND VAN SELFSTANDIGE PLAASLIKE GEMEENTES
6.1 Ons besluit dat die presbiteriaal-sinodale kerkregeringstelsel as model vir die organisering van die nuwe een kerkverband gebruik word. Dit beteken dat al die gemeentes as selfstandige gemeentes ingevoeg word in ringe, sinodes en een algemene sinode.
6.2 In die proses moet ruimte gelaat word vir onderhandeling, nuwe moontlikhede en 'n groei na mekaar en samevoeging van gemeentes.
 
7 GEMEENTES SE REG OM HUL OOR HUL EIE WERK TE BESLUIT, WORD ERKEN
Al die bestaande gemeentes van die verenigde verband sal so behoue bly en almal saam die gemeentes van die nuwe verband wees. Gemeentes is onderling oop vir bywoning en lidmaatskap. Waar meer as een gemeente in dieselfde gebied val, staan dit gemeentes vry om hulle onderlinge sake en samestelling spontaan en sonder voorskrif of dwang te reël volgens plaaslike behoeftes. Kerkrade funksioneer binne die gereformeerde aard in terme van hulle besluitnemingsbevoegdheid oor gemeentes.
 

 
DIE BELYDENIS VAN BELHAR
Die Algemene Sinode besluit om die Belydenis van Belhar op kerkordelike wyse deel van die NG kerk se belydenisgrondslag te maak en dra dit aan die Moderamen op om die nodige kerkordelike prosesse hiervoor in werking te stel.
 
NUUSFLITS OOR BELHAR-BELYDENIS
Die NG Kerk se Algemene Sinode het vanmiddag besluit om die kerkordelike proses te begin wat tot die insluiting van die Belhar-Belydenis in die belydenisgrondslag van die NG Kerk kan lei.
Per besluit moet twee-derdes van kerkrade Belhar met 'n twee-derde stem goedkeur, waarna al die streeksinodes dit ook moet goedkeur.
Die Algemene Sinode se besluit word as 'n dramatiese voorwaartse stap gesien.
Na afloop van die besluit het ek 'n klankonderhoud met prof Thias Kghatla, voorsitter van die Verenigende Gereformeerde Kerk se Algemene Sinodale Kommissie gevoer. Kghatla was diep geroer en het gesê: "I am stunned, I am schocked." Luister na die onderhoud.
Sowat 90% van die vergadering het ten gunste van die besluit gestem.